Vier jaar gelede het ek laas my hart hier gedeel. Hoe dinge nie darem in 4 jaar kan verander nie. Hoe jou "storie" nie darem net na absoluut iets toe verander wat jy nooit sou geskryf het oor jou self nie. Ek praat nie nou van hoe ons drome vir ons lewens verskil met God se droom nie, ek praat van hoe die lewe en omstandighede kom en alles in jou prentjie kom verander.
MAAR hoe God jou nooit ooit verlaat nie, jou nooit begewe nie, jou nooit alleen laat nie.
Hoe Sy karakter nie verander nie. Hoe Sy hart en droom oor jou nie verander nie. Jy is Sy liefdesgedig, Sy melodie, Sy hartsbegeerte na wie Hy verlang....
So rukkie terug was ek in situasie waar ek Jesus spreekwoordelik wou wakker ruk en die boot wou omgooi dat Hy saam met my in die water kom spartel vir lewe. Ek het besef Hy slaap soos in die gelykenis, omdat Hy weet alles sal OK wees.
Maar diep binne het ek gewens Hy swem eerder hier langs my tussen die ongelooflike golwe en sluk saam my water. Ek het gewens Hy voel hoe ek moeg word om die regte keuses te bly maak om vreugde en vrede te kies.
Ek het kwaad begin raak dat Hy met soveel oortuiging my los om te fight vir my lewe en Hy le in die boot en slaap.
Na ek hierdie beeld met n vriendin gedeel het wat saam my gebid het in hierdie tyd, het sy baie rustig vir my kom uitwys dat ek in die verkeerde storie is.......
Ek het verbaas gevra wat sy bedoel en sy het gese dat ek die verkeerde storie hier aanhaal. Yes, ek is in die water, en ja daar is 'n storm. Maar in hierdie storie is Jesus reeds in die water. Hy roep my na Hom toe. Ek is besig om op die water te loop, en nie om te verdrink nie. Hy le nie en slaap nie, Hy staan saam my. Al lyk die golwe hoe, en al sluk ek hoeveel water, ek loop saam met Hom op die water. Ek is nie 'n drenkeling nie, eks 'n wonderwerk. EK LOOP OP WATER!!
Ek sal oor tyd hier deel wat God oor die laaste 5 maande in my lewe kom doen het, nie die slegte ervaring of omstandighede nie. My fokus is nie meer daar nie, maar in die lewe van oorvloed wat ek het in Hom. Oorwinning en eintlik meer as oorwinnaar. Ek wil hierdie herontdekking van Sy goedheid kom deel omdat ek net glad nie sal kan stil bly nie. Ek sal nie kan ophou om Sy naam te besing en aan Hom die eer te gee vir wat Hy kom doen het nie. Hy is lewe en lig en sal vandag,more en tot in ewigheid dieslfede wees!!