11 September 2008

God het jou lief

Vanoggend is my hart vol. Dis een van daai dae wat as ek net aan die Here dink wil ek huil. My hart is so sag oor Sy goedheid en Sy liefde vir ons!!!!!!!

Ek het God so 9 jaar terug vir die eerste keer leer ken as 'n goeie Vader, getrou aan Sy karakter. Jare se leuens en persepsies moes in my kop verander word. Vir nog so lank as wat ek kon onthou voor daardie dag, was God ver, ontoeganklik en te ver bo my. Hy was meer 'n fantasie figuur as 'n werklikheid.
Toe op daardie awesome dag, snap ek dat Hy my vriend is en dat Hy aan my kant is. Sy hart oor my is goed, Sy gedagtes oor my is goed en ek kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan. Daar was nogsteeds sekere goed wat ek nie kon verduidelik nie...... maar ek net besluit om by my besluit te bly dat God goed is. Ja, die stories in die ou testament vs die God in die nuwe testament is seker iets wat mens se kop kan deurmekaar krap, maar wat dit aanbetref weet ek net nogsteeds dat God goed is. Tussen toe en nou het Sy seun die volmaakte offer kom betaal om te verseker dat die mens nie weer ver van God af hoef te wees nie.

Jes 54:7-10 Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. (8) In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser. (9) Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie. (10) Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.

Vanoggend sit ek voor die rekenaar met trane wat oor my wange rol. Ek het net nog meer 'n oortuiging van wie God is vandag.
In die verlede sou dit my ontstel as iemand die karakter van God verdraai. Ek kon insien dat dit onkunde was, of dat die persoon nog nie oortuig in hul eie harte was oor hierdie feit nie. Maar ek moes my hart bewaar om nie net sommer kwaad te word nie.

Vandag voel ek nie kwaad daaroor nie, dit voel egter of iemand my hart uit my bors uit ruk en daarop spring en in die rondte draai as ek hoor dat iemand my God so mis verstaan.

Daar is vir Hom niks belangriker vandag as jy nie. Niks maak Hom meer opgewonde as jou teenwoordigheid nie. Niks breek Sy hart vandag meer as jou seer nie. Niks roer Sy hart vandag meer as jou trane en krete om hulp nie. Niks bring Sy hart meer in beroering vandag as JY nie!!

Ons wil sit en met ons slim intelektuele breine met woorde verklaar wie hierdie God is. Ons wil Hom dan mooi in 'n pakkie toedraai en langs ander onderwerpe op ons rakkie sit waarop daar staan "het die tema onder die knie". Ons beste poging om Hom te definieer en te beskryf sal nie naastenby genoeg wees nie. Ver bo dit wat ons dink Hy is, is Hy. Veel meer........

En nou, ek kan jou nie hiervan oortuig nie, en as jy nie in jo hart nie hiervan oortuig is nie, dan gaan die bybel dit verseker nie doen nie, inteendeel.
Geen mens kan jou oortuig van hierdie alles oortreffende goedheid en hart van God oor jou nie!!!
Hy het mens geword in Jesus, maar ons ken Hom nie na die vlees nie. Jy kan Hom nie vergelyk met enige iets op hierdie aarde nie. HY IS GOD!!!!
Net God sal jou hart kan oortuig van wie Hy regtig is. En Hy doen dit so sagkens en met soveel liefde.......

Ek dink nie woorde kan vanoggend oordra wat in my aan die gang is. 'n Vriendin van my het eenkeer gese, God het nie lief nie, HY IS LIEFDE. Ons slim koppe kan dit nie 'comprehend' nie.

Weet net verseker die volgende, of jy nou oortuig is of nie:
  • God is lief VIR JOU
  • God se begeerte is na JOU
  • God sal alles weer doen al was dit net vir JOU
  • Ons leef in 'n tyd waar alles ons baie skepties maak, oor EEN ding hoef jy nie te twyfel nie, Sy liefde vir JOU. Sy hart vir JOU. Sy drome oor JOU

Niks maak meer saak as dit nie. Al ons planne, strukture, persepsies, instellings, posisies is goed bedoel, maar die gaan net oor HOM!!!

Laat vandag net oor HOM gaan, nie net vandag nie...............




No comments: