07 November 2007

Tydjies van heerlikheid met God

Ek probeer al vir lank ‘n plan bedink oor hoe ek regtig my eie stilte tyd kan he. My eie tyd met God. Enige vrou met kinders besef dat hierdie tyd skielik afneem en dat mens skuldig voel oor jou prioriteite…. "As ek maar net soveel tyd met die Here maak soos ek met my kinders spandeer."
Vir ‘n dag of twee loop die roetine so glad dat ek in die middae tyd vir myself het terwyl altwee kids slaap. Heerlikheid op heerlikheid!!!! Maar net die volgende dag is die heerlikheid iets van die verlede met die slapies wat nie gesinchroniseerd is nie, en ek voel sommer moedverlore…


My raad na vele pogings en skuldgevoelens is die volgende. Eerstens kan jy as ma met gerustheid weet dat jou kinders deur God aan jou toevertrou is. Hulle is jou bediening. Jou tyd en energie gaan om hulle groot te maak en te sien tot die volwasse man in Christus. Jou tyd met hulle is jou bediening en nie tyd wat verlore gaan nie. Dit maak my tyd met my kinders soveel meer betekenisvol. Ek besef dat ek elke oomblik in hulle lewens investeer en hulle toerus. Ons is besig om hulle identiteit in Christus te vestig. En ja, ek word ook moeg en elke dag is nie noodwendig sonder frustrasie en foute nie, maar die fokus van die tyd wat ek met die kinders spandeer is nou iets beters!!!

‘n Ander belangrike punt wat jy kan onthou, is dat ons elke oomblik van die dag met God in intimiteit verkeer. Dit is ons voorreg wat verkry is deur die werk van Jesus aan die kruis. Ons is 24 uur van die dag in die allerheiligste, die voorhangsel is een keer vir altyd geskeur!!!! Ek het vrye toegang tot die Vader. Nou kan ek elke 5 minute deur die dag opraap en insluk. Sekere dae gaan ek tyd he waar ek regtig lekker lang tye het met God, maar vir die dae wat woes gaan, kan ek weet dat ek die hele tyd in Hom is en Hy in my. Die 2 min wat ek in die kar wag, die 4 min voor die stoof wanneer een van die kinders nie jou broekspyp trek nie, die 5 min wat die karretjie of pop jou kinders besig hou, elke klein oomblikkie is tyd wat ek met Hom kan gesels. Rustig kan raak en stil kan staan. In die oomblikke bedink ek nie my omstandighede en vrese nie. Ek bedink dit wat daar bo is, ek soek die koningkryk en Sy geregtigheid. Ek laat toe dat my gedagtes vernuwe word met Sy gedagtes van lewe en oorvloed. Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor my is. Ek gaan in Sy rus.

Die oomblikke is regtig prakties iets wat my baie dae help om verkwik te bly, gefokus te bly en Hom die hele tyd elke dag te kan geniet. Om "bedwelmd" te wees met Hom!!
Om nie te vergeet wie ek in Hom is nie, en nie die leuen en begeertes van hierdie wereld te onthaal in my gedagtes nie.

Gaan probeer dit gerus prakties. As die kort tydjies nie vir jou werk nie, vind wel iets wat vir jou werk. Ek kan regtig aanbeveel dat ons soveel moontlik van ons tyd spandeer met ons gedagtes gerig op wat daarbo is. Om in pas te bly met Sy droom vir my lewe, kom uit intimiteit met Hom.

Geniet elke oomblik daarvan!!

No comments: